stoep stories

Stories by Mark Hinds & Jacques Rabie

Die Heilige Gees werk
by die Karroo Hotel

deur Jacques Rabie

The Ghost House

Die Heilige Gees

The man who bought a piano

Most unlikely coincidences

A Time To Delight In What We have

Christmas

Die Heilige Gees werk by die Karroo Hotel

deur Jacques Rabie

Dit was ‘n oggend vroeg in die maand van Maart toe ek en Mark ‘n besoek ontvang het van ‘n man van ‘n kerk. Ons was besig om ons swembad skoon te maak voordat ons dit met water sou vul.

Die man vra ons of hulle ons swembad kan gebruik om in te doop sodra ons die swembad volgemaak het. Ek kyk vir Mark en hy vir my. Ons was verbaas om so ‘n versoek te kry, maar antwoord heel beleefd dat dit in die haak sal wees … en dat ons bevoorreg voel om dit vir hulle kerk beskikbaar te stel. So het die tyd verbygegaan en ons het daarvan vergeet. Die swembad is gevul en ons geniet dit terdeë. Aangesien dit so warm is hier op Steytlerville is, koel ons elke dag af in die swembad.

Vroeg in Desember gaan ons naDie Winkelom ons daaglikse brood te koop toe ‘n man ons weer nader oor “die doop”. Ons is weer eens baie beleefd en sê dat dit in die haak is dat hulle veertien mense in ons swembad kan kom doop. Ons dorp Steytlerville het baie lank laas reën gehad en die rivier het geen water nie, dus moet die doop plaasvind en ons het die groot-groot swembad vol water.

Die Sondagoggend het aangebreek en die bakkies vol mense het begin arriveer.  Hulle het hul tuisgemaak op die hotel se stoep, waar hulle gewag het vir die volgende bakkie en die volgende. Nadat almal op die stoep vergader het, het ‘n man met ‘n swart broek, wit hemp en ‘n swart das uit ʼn bakkie geklim en vir die mense op die stoep gesê dat hulle om die swembad moet vergader, wat hulle toe gedoen het. Tussen hulle was daar ‘n maer mannetjie met ‘n kitaar. Die man met die swart broek, wit hemp en swart das sê toe vir die skare dat hulle ‘n paar “kore” gaan sing, wat hulle toe ook gedoen het, en hulle is deur die maer mannetjie met die kitaar begelei.

Intussen het Mark vir ons ‘n pot tee gemaak wat ons baie rustig op die stoep sit en nuttig het, net soos elke dag van ons lewe. Ek sê toe vir Mark: “Wie wil nou kerk toe gaan as die kerk na jou toe kom?” Ons het eers lekker daaroor gelag en toe trek die koor weg met ‘n lied oor die heilige waters.

Die een jong man vra toe vir my of ons ‘n lang stok het. Ek kyk verbaas na hom. Hy sê toe vir my dat hy Moses simboliseer met die lang staf in die Jordaanrivier wat die mense doop om kinders van God te word.

Ek dink … en dink … ek wil nou nie ‘n vuil ou stok in die swembad hê nie, “O!” sê ek vir die jong man, “ek het iets soos ‘n lang staf.”

Ek hardloop toe na die swembad se pomphuis waar ek toe die lang blou metaalpyp uithaal wat ons gebruik om die blare uit die swembad uit te skep Ek haal gou die net af en gee dit vir die jong man wat toe in die swembad inklim met sy lang staf wat Moses voorstel. Die skare sing nog ‘n paar liedere  en die jong man wat Moses voorstel se lippe is al blou van die koue water, maar hy staan in die water, nes Moses.

Die man met die swart broek, wit hemp en swart das begin toe uit die Bybel uit lees oor die doop, waarna hy vir elke persoon wat gedoop gaan word vra hoekom hulle gedoop moet word en of hulle ‘n boodskap gekry het. Nadat elkeen sy of haar rede gegee het, het die man met die swart broek, wit hemp en swart das sy hande omhoog gegooi en gebid.

Hy bid om dankie te sê vir die waters wat uit die leeu se bek kom waarin hulle die mense kan doop. Dit was negeuur die oggend, en soos elke oggend om negeuur skakel die swembad se pomp aan. Aan die een kant van die swembad is daar ‘n leeu se kop waar die water uit sy bek in die swembad invloei.

Die skare staan verbaas en kyk na die leeu se bek en roep uit: “Prys die Here, die Gees is hier!” Ek en Mark wat op die stoep sit en tee drink val amper van ons stoele af soos ons lag oor die water wat uit die leeu se bek gebring word en waarin die mense gedoop gaan word.

Die mense glo vas daaraan dat dit die werke van die Heilige Gees was en nie die werke van die mens wat die tyd op die tydskakelaar gestel het nie.